Sunday, December 28, 2008

Kersfees in Dubai

Hallo julle,

Ek gaan sommer met die deur in die huis val... Kersfees was maar baie "low key" hier. Al die winkels was oop en dis maar baie kommersieel.

Ons sou by Britte gaan eet het, maar erens het ons misverstaan. "Come for dinner around Christmas time" is blykbaar nie dieselfde as "come for dinner ON Christmas" nie. So, ons het toe maar gele en TV kyk (ons het mos nou satelliet) en toe later gaan fliek. Ons het "Anywhere but Home" gekyk, nogal ironies ne. Ons kers ete? Nachos en popcorn. Ja, jy kan maar se shame. Die kers etes hier het gewissel van Dhs500 tot Dhs1,000 (so R2,500) per kop. Ek kon seker vir ons kos gemaak het, maar wie wil nou alleen eet op kersdag?

Ek het vir kersfees 'n kalahari Ferrari gekry... Dis nou 'n fiets. Ek ry baie lekker rond. As Percy in die aand gaan draf, kan ek saam met hom ry. Te lekker.

Percy wou nog altyd kite-surfing doen. Ek sien toe in een van die winkels dat hulle gift-vouchers verkoop vir ervaringe... En Kite Surfing was een van hulle. Jy kry 2 lesse, so dan kan Perc sien of hy daarvan hou...

Wel, ons het toe nou gisteraand by die Britte gaan eet. Baie aangename mense. Percy en Andy werk saam. Ek is die eerste persoon wat Polly, dis nou sy vrou, hier ontmoet het. Sy is ook bang vir die naald, so ek gaan volgende week saam met haar vir morele ondersteuning... met die naald.

So gepraat van die naald, ek het julle nog nie vertel van my ervaring nie. Daar is 'n paar van julle wat weet hoe ek oor bloed trek voel. Dit gaan gewoonlik so:
Dag 1
Suster soek 'n aar, daar's geen are sigbaar nie. Sy steek, ek panic. Die oefening is verby.
Dag 2
Suster soek 'n aar, geen aar sigbaar. Sy wil steek, ek panic. Oefening is verby.
Dag 3
Suster roep vir dokter, hy trek bloed uit my hoof slagaar in die nek. Oefening is finaal verby.

Nou ja, met hierdie agtergrond is ek toe bitter angstig saam met Ghani, my fixer (hy werk saam met Percy, 'n Pakistanie wat my aan my oupa laat dink en my skielik baie veilig laat voel) na binnelandse sake toe. Ghani het my sooo mooi gehelp, my presies gese waar ek moet sit, vir wie ek my papiere moet gee ens. Nadat my papiere gestamp is, is ek na die dokter toe. Hy kyk net na jou papiere en dan gaan jy na die volgende kamer toe. Ek moet byse, daar is rye en rye mense wat al daar staan van vroeg af. Meestal Filipyne. Maar my fixer het my elke keer heel voor in die ry gaan indruk. Nou praat ek van HEEL VOOR. Weet jy hoe sleg het ek gevoel vir die mense wat al ure lank daar staan en ek gaan staan heel voor? Baie sleg. En die mense in die ry het nie eers geprotesteer nie. Sjoe, dit wil gedoen wees.

Wel, nadat die dokter sy "stamp of approval" gegee het, is dit x-trale toe. Hulle scan jou vir TB. Die man by die x-trale was baie vriendelik, hy't my heeltyd herinner dat ek moet glimlag terwyl hy my longe afneem. :-)

Daarna is ek, nat gesweet van spanning na die ry vir die bloed trek. Daar is twee susters wat daar sit. So jy sit op jou stoel, en wanneer hulle jou roep, sit jy jou arm uit, hulle steek en dan waai jy. Nou ja, voor die suster haar naald in my arm kon druk het sy my hele geskiedenis met die naald gehoor. Sy was baie vriendelik en het gese as sy nie bloed kry nie is daar 'n Lab Technician wat sal probeer. Nie baie gerusstellend nie! Mense, die Here het vir my 'n wonderwerk gedoen! Daai girl steek toe en siedaar, met die eerste steek kry sy 'n aar EN BLOED!!! Toe sy die naald uittrek wou ek by haar weet of sy genoeg bloed gekry het!!! EN SY HET!! Ek vra haar toe, met baie respek, of ek haar 'n druk kan gee, want so iets het nog nooit met my gebeur nie. Sy't nie gedink ek's ernstig nie, maar het toe ja gese toe ek nie opstaan nie. Ek dink nie hulle is gewoond daar aan dat mense met smiles en dankbaarheid by hulle weggaan nie.

Terug by gisteraand. Ons het toe gisteraand by die Britte gaan eet en Andy het skoon van sy stoel afgeval toe ons vir hom vertel oom Jan jag vlakvarke met pyl en boog. Hy kon dit nie glo nie. En toe ons nog se ons eet die vlakvark, was dit eers vir hom 'n skok. Hulle het nog baie om te leer... Hulle wil graag SA toe kom, so dis hoe ons op die vlakvark storie gekom het.

Nou ja, ek sien ons doen goed in die krieket! Go Duminy!!

Ek moet se ek is baie dankbaar vir Percy wat die goed so mooi gereel het. As ek hoor hoe suffer die ander ouens se vrouens omdat hulle nog nie internet of satelliet het nie... Eish!

Ons het gisteroggend nog Suid Afrikaners ontmoet. Hulle het 8 jaar hier gewoon en is nou oppad Kanada toe. Adele het vir my al haar kontakte gegee, van 'n Suid Afrikaanse dokter tot 'n goeie haarkapper. BAIE WAARDEVOL! Julle wil nie weet hoe het my laaste haarsny sessie gegaan nie! Det, hier's tot 'n nail spa!! Ons kon toe ook 'n paar tweede handse goedjies by hulle oorkoop, water filter ens.

Bel ons gerus op Skype! Ons webcam en alles is nou opgestel!

Hey, ek moet gaan. 'n Baie voorspoedige jaar vir julle hoor!

Magriet... namens ons!

Tuesday, December 23, 2008

Finally... our own place!

Dis met groot dankbaarheid wat ek vandag vir julle skryf hier uit ons eie plekkie uit. Ons woonstel is so 1,000 square foot groot, net om julle 'n idee te gee. En ons internet is vandag ingestel. Ek is soooo bly en dankbaar daarvoor.

Julle sal nooit raai nie. Onthou julle die kelner waarvan ek so 'n rukkie terug geskryf het? Ryan? Wel, nou die dag staan ons en gesels (ek gaan groet maar altyd as ek in die mall is). Ek se toe vir hom ons trek Jebel Ali toe. Hy vertel my toe dat hy elke Vrydag Jebel Ali toe kom want sy kerk is hier. Ek steur myself toe nie baie daaraan nie, want kerk kan baie ander betekenisse he hier in die Emirate. Hy vra toe vir my: "Mam, if you don't mind me asking, what religion are you?" Ek se toe Christen. Ek vra toe vir hom watter godsdiens hy is... Hy se "a born-again Christian"! Is dit nie great dat die eerste persoon met wie ek hier vriende maak, 'n Christen is nie??? Ek het sy nommer geneem en ons sal een Vrydag saam met hom kerk toe gaan.

Vir die van julle wat oor Percy se tattoo gewonder het... Dis fake! Dit het na 'n week afgewas. Mmmmmm, gedink ons haak nou uit ne!! Shame on you!



Dis nou 'n moeilike tyd om vriende te maak as gevolg van Kersfees. Almal is by vriende en familie. Ons netwerk sal waarskynlik begin groei van vroeg Januarie af.

Percy doen uitstekend by die werk. Hy het al 'n hele paar veranderinge aangebring en die mense hou baie van hom. Die werkers is blykbaar gewoond daaraan dat die bestuurders soos royalty hanteer word. Hulle eet selfs apart. Percy het dit afgeskaf. Hy en sy bestuurspan sit tussen die tegnikuste en hy het selfs eendag sover gegaan as om hulle te bedien. Dit het blykbaar 'n baie groot impak op die werkers gehad. Bid asseblief vir ons terwyl Percy die Strengths coaching daar probeer inkry. Dit sal baie groot deure vir my oopmaak en my lekker besig hou.

Die Al Futtaim groep, waaraan Toyota behoort, is baie groot hier in die UAE. Hulle besit baie winkels ook, soos bv Panasonic. En as Percy sy Al Futtaim kaartjie flash, kry ons afslag. So as ek by Al Futtaim inkom, kan dit baie groot deure vir ons oopmaak. Ek het nog nie gehoor van die Gallup mense nie, so ek gaan maar voort om my ding te doen met die ondersteuning van ons organisasie in Suid Afrika, Africanmosaic.

Kersfees hier is nogal groot. Dis nou die gekommersiele deel van Kersfees. Kersbome, ysbere, pikkewyne, nie baie kersvaders nie. Of nie wat ek in elk geval gesien het nie.

Ek is baie bly dat ons ook "DSTV" vandag gekry het. Nou kan ek die krieket volg. En dit lyk vir my daar is iets om te volg!! Ons het gewen!! Go Proteas!!

Hey, laat ek gaan. Ek moet nog die huis skoonmaak, al die klere wegpak en uitfigure hoe die TV remote werk. :-)

As ons nie weer gesels nie, baie geseende Kersfees en mag die nuwe jaar vir julle mooi dinge bring hoor!

Magriet
namens Percy.

Wednesday, December 17, 2008

Stort?




Hi julle,

Ek sit hier in Starbucks, hulle het gratis internet vir mense soos ek wat nog nie by die huis het nie. Ons goed het vandag gearriveer, ons kort nog net die yskas en die wasmasjien.

Baie van julle het my gevra... wat is hierdie stort affere? Wel, hier bo het ek vir julle 'n prentjie gesit. Hulle het nie toilet papier hier nie, jy moet maar stort as jy klaar die toilet gebruik het... :-) Darem nie heeltemal nie. Jy kan maar kies wat jy wil gebruik, toilet papier of die stort. Sien julle die kraan net regs van die "stort"? Wel, by die werk maar Percy die kraantjie vol oop. Imagine the surprise!! So 'n stort kan nogal skop! Soos 'n vriendin vandag genoem het, hulle drip-dry seker... vandaar die rokke! :-)

Ons trek nou nie vandag in nie, al is die bed al daar. Sal seker Vrydag intrek. Kan nie wag om my eie plekkie te he nie, daar waar ek my fotos kan opsit.

Ons gaan miskien Vrydag na die Abu Dhabi motorskou toe. Ek ken iemand wat in Abu Dhabi werk, Chris Bruce. Hy het destyds Vlam by my gekoop. Wereld is klein ne! Vir die wat nie weet nie, Vlam was my oranje Ford Escourt wat ek gery het voor ek Percy ontmoet het. Dit was in die dae toe ek nog een kar besit het. Met Percy is dit mos 'n kar per jaar :-)

Hier is 'n foto van Percy se tattoo! As julle nie die foto kan sien nie, click in gmail op "Display images below".



Percy geniet sy werk baie. Daar's baie druk, hy werk van 7:30am en kom eers 6:30pm by die huis. Hy het al 'n hele paar veranderinge in die werkplek gemaak, dinge wat baie beter werk as voorheen. Hy werk baie hard om homself te bewys.



Hy stuur liefde en groete vir julle almal. Hy't vandag vroeg van die werk afgekom want hy's opgewonde om sy 42" Plasma skerm te sien.

Nou ja, groete hoor, ons gesels weer later! Ek sal laat weet wanneer ons internet het sodat ons lekker op skype kan gesels!

Perc & Griet

Thursday, December 11, 2008

Intrek


Hallo julle,

Net 'n vinnige update om te se dat dit lyk asof ons hierdie naweek al van ons goedjies kan begin intrek. Ek was baie bly om te sien ons is nie ver van die Dubai Marina af nie. Dis nou waar hulle die dolfyne hou.

Dis ook van die Marina af wat jy na die Palm toe ry. Ons het Dinsdag in die Palm ingery. Ek sal fotos stuur. Jy kan nie glo hoe dit daar lyk nie. Luuks hoor, luuks. Die Astin Martin’s en die Ferrari’s staan daar dat dit snaaks lyk. Ons het ook Sol se plek gesien… Lost City se moses hoor.

Skryf seblief vir ons. Alhoewel ons nog nie internet het nie, kry ek e-mails op my foon.

Okie doukie,

Tot later.

Saturday, December 6, 2008

Hi!


Foto van ons woonstel blok in Discovery Gardens, 30 minute buite Dubai City Centre. Ek sal later meer fotos stuur.







Kan julle glo dis my dag 4 vir my hier in Dubai. En wat ‘n avontuur sover. Ek moet se, dit wat mens op TV sien en dit wat ek hier ervaar lyk werelde ver. Die argitektuur is uit die aard van die saak dieselfde, maar mens sien dit nie regtig hier van waar ons woon nie.


Ons bly tans in Flora Creek Apartments, dis soos ‘n hotel/woonstel. 1 Slaapkamer met kombuis, 1 badkamer, 1 gaste toilet en voorhuis.


Ek het Woensdag oggend 3:00am SA tyd en 5am Dubai tyd geland. Alles het goed gegaan deur doeane, die lughawe is net vrek groot. Hulle neem nie meer vinger afdrukke nie maar scan nou jou oe. Dis glo meer akkuraat as vinger afdrukke. Ek het omtrent 2 minute gewag vir my visa, baie vinniger in vergelyking met Percy se 4 ure toe hy hier geland het. Thanks Perc vir jou moeite J Mwa!!


Ek het maar lekker uitgepass op die bank toe Percy Woensdag oggend werk toe is. Ek het hom nie eers hoor inkom nie en my vrek geskrik toe hy my wakker maak. Die woorde van een van ons pastore het deur my kop gevlieg: “Help, die Filistyne is op ons!” Hier kan dit nie die Filistyne wees nie maar wel die FiliPyne! J


Percy het my toe geneem na die Deira City Centre, ‘n groot mall so 2 km van waar ons tans woon. Dis baie groot en ek het my verkyk aan al die ninjas, daar’s darem nie te veel nie. Die eerste ding wat ek natuurlik gekry het, prioriteit 1, was lugtyd vir my selfoon. So my eerste Arabiese woord was “Etisalat”, wat die lugtyd operateur is. Ek weet ook dat ek lugtyd moet koop by ‘n winkel genaamd “Minutes”.


Ons het toe by Columbo Café gaan eet, dis reg langs die Virgin (Richard Branson se brand) Megastore. En daar sien ek wraggies TV reekse wat jy kan aankoop, so uit die ou dae. Die van julle wat fans was van Airwolf en McGyver en graag die goeie ou dae wil herleef, laat my weet…


By Columbo Café het ons vir Ryan, die waiter ontmoet. Hy is in Filipyn wat al 2 jaar hier in Dubai bly. Percy se die Filipyne kan nie F se nie, so hulle vervang die F met ‘n P. So ons moet dan eintlik se “Pilipyne”. J. Ek het intussen weer na Columbo Café gegaan en het nou ‘n vriendelike gesig wat my naam ken. Hulle sukkel bietjie met die G in Magriet, so ek maak dit maar ‘n Amerikaanse Gh.


Die eerste dier wat ek gesien het was toe nie ‘n kameel nie, maar wel ‘n vlieg. En hier draai hulle nogsteeds so om mens soos in Suid Afrika.


Ons het intussen al na Festival Mall en Emirates Mall toe gegaan. Dis by Emirates Mall waar die ski oord is. Nog nie probeer nie. Dis in Emirates Mall waar ons ‘n Emirate met sy 8 vrouens gesien shopping doen het. Hierdie ouens het guts hoor. Vir meeste van julle mans in SA is 1 vrou te veel in ‘n mall. Julle sal maar moet kom leer hoe dit gedoen word!


Ons het gister gaan meubels soek by ‘n plek genaamd Ikea. Dis soortgelyk aan Joshua Door. Ons was ook by ‘n hardeware winkel soortgelyk aan Builders Warehouse. Toe is ons na ons woonstel toe om te gaan meet. Hieronder sien julle fotos van waar ons gaan bly. Ons ontdek toe ‘n mall so 2 km van ons woonstel en wat ‘n nice mall. Die argitektuur is Morokken, ek dink, maar daar is baie nice winkels. Ook ‘n gym waar vroue kan gym. Ek’s baie bly daaroor.


Daar’s ook ‘n baie nice sport winkel. Baie van julle weet dat ek hou van ‘n rooi Ferrari, so jy kan jouself indink hoe my hart geklop het toe ek ‘n bloedrooi mountain bike sien met ‘n Ferrari bag op. “As ek nie ‘n Ferrari motor kan kry nie sal ‘n fiets beslis doen”, of so het ek gedink. 10,000 Dirhams vir die fiets met die Ferrari bag op. Soorgelyk aan R25,000!!!! Nee dankie, ek sal maar vir my ‘n gewone fiets kry, hom rooi spray en ‘n Ferrari sticker by Bokburg flooimark gaan kry en opplak!


Gepraat van flooimark, ons was gisteraand by Dragon Mart. Een $#%$$&^% groot flooimark buite Dubai. Dis seker waar SA aan hulle idees gekom het. Probleem is net dat daar geen aircon is nie. Ons was nie baie lank daar nie.


Ons het ook die wereld se grootste plasma skerm by Plug-Ins gesien. 103 Inches – 130,000 Dirhams = R350,000. Hulle gooi darem vir jou ‘n gratis massage stoel in…


Vriende, tot later dan! Ek moet regmaak, Percy wil weer die winkels invaar… (Hy soek ‘n playstation game vir ons PS3… Lindi, eat your heart out!!)


Lief vir julle en mis julle baie!

Namens die Fick gesin (Of, as jy ‘n Pilipyn is, die “P”ick gesin… hehehehe)


Griet.